
Wachau
Die Wachau is 'n landskap in die Oostenrykse deelstaat Neder-Oostenryk, sowat 80 kilometer wes van die hoofstad Wene. Dit bestaan uit die Donauvallei tussen Melk en Krems an der Donau en strek oor 'n afstand van 35 km. Die "Kultuurlandskap Wachau" met altesaam vyftien nedersettings is - saam met die barok-kloosters Melk en Göttweig en die historiese middestad van Krems- deur Unesco in 2000 as wêrelderfenisgebied gelys. Histories is die Wachau in die grensland tussen twee Neder-Oostenrykse landskappe geleë. So word die suidweste van die Wachau as deel van die Mostviertel beskou, terwyl die noordooste by die Waldviertel gereken word, 'n streek in die noordweste van Neder-Oostenryk. Die Wachau word gekenmerk deur die kronkelende rivierloop, met steil rotswande aan weerskante van die Donau wat op plekke tot 700 meter diep in die rotse ingesny het, wingerdterrasse, uitgestrekte vrugteborde, indrukwekkende sakrale en wêreldlike boukuns met kloosters, kastele en ruïnes. Die landskap se lang geskiedenis is nou verweef met dié van Oostenryk - en strek nog verder terug. Mense het reeds sowat 30 000 jaar gelede aangetrokke gevoel tot die vrugbare Donaulandskap met sy gematigde klimaat.